Galatians 2:14 — Compare Translations
7 translations compared side by side
Afrikaans (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Maar toe ek sien dat hulle nie opreg wandel volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus voor hulle almal gesê: As jy, wat 'n Jood is, volgens die heidene leef en nie soos die Jode nie, waarom dwing jy die Heidene om te lewe soos die Jode?
Afrikaans (NLV) 2011
Toe ek egter sien dat hulle optrede nie strook met die waarheid van die Goeie Nuus nie, het ek voor almal vir Petrus gesê: “Hoe kan jy, wat ’n Jood is — wat egter nie meer Joods lewe nie, maar nie-Joods — die nie-Jode dwing om soos Jode te leef?”
Afrikaans 1933/1953
Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden lewe en nie soos 'n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?
Afrikaans 1983
Toe ek sien dat hulle van die reguit pad van die evangeliese waarheid afwyk, het ek daar voor almal vir Sefas gesê: “Jy is 'n Jood, en jy hou jou nie meer aan die Joodse gebruike nie. As jy self leef asof jy nie 'n Jood is nie, hoe kan jy dan mense wat nooit Jode was nie, wil dwing om te lewe asof hulle Jode is?”
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
Maar toe ek sien dat hulle nie die reguit pad loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek voor almal vir Sefas gesê: “As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden leef en nie soos 'n Jood nie, hoe kan jy nie-Jode dwing om soos Jode te leef?”
Afrikaans Bible (ABA) 2007 (Bybel vir almal)
Ek het gesien hulle doen verkeerd, hulle verander die waarheid van die goeie boodskap. Daarom het ek vir Sefas gesê, en almal het dit gehoor: “Sefas, jy is 'n Jood, maar jy lewe soos die mense wat nie Jode is nie. Nou sê jy vir die mense wat nie Jode is nie, dat hulle soos Jode moet lewe. Jy mag dit nie doen nie.
Afrikaans DB 2006 (Die Boodskap)
Toe ek sien dat die gelowiges nie meer leef volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek ingegryp. Ek het Petrus daar voor almal vasgevat: “Jy wat ’n Jood is, leef lankal nie meer soos ’n Jood nie. Wie gee jou dan die reg om mense wat nie Jode is nie te dwing om nou skielik allerhande nuttelose Joodse gebruike na te kom?”